Koshuisouers

As huisouers is ons baie opgewonde oor 2020 en wat vir De Goede Hoop voorlê. Ons skop die jaar af met ’n nuwe perseel, want Jan het in 2019 besluit dit is tyd om anker te lig en na ’n groter perseel te vaar waar meer geleenthede vir ’n opwindende studentelewe vir ons inwoners wink. Dit beteken ons kan ook nou meer studente huisves.

Ons is trots daarop dat ons ’n Christelike, Afrikaanse, waardegedrewe koshuis is waar ons nie skaam hoef te wees vir wie ons is, of waar ons vandaan kom nie.

Ons wil jou uitnooi om deel te word van ons steeds groeiende De Goede Hoop-familie, waar ons saam bou aan ’n nalatenskap vir generasies wat nog kom.

Ons is roepingsgedrewe en daarom glo ons dat ons geroep is as huisouers van hierdie besonderse koshuis, om ’n verskil in jongmense se lewens te maak. Ons wil graag jongmense voorberei vir die “grootmenswêreld” en daarom beplan ons om in 2020 saam met die vestiging van tradisies ook meer aandag te skenk aan die persoonlike ontwikkeling van ons jongmense wat deel is van die De Goede Hoop-familie. Op dié manier help ons slyp aan ’n volgende generasie leiers.

Ons wil jou ook nooi om ’n “Anker” van De Goede Hoop te word. Met hierdie projek staan ons studente by wat nie andersins ’n geleentheid sou gehad het om in De Goede Hoop te kon woon nie. Deur hierdie projek te ondersteun, help jy dat ’n student in ’n veilige omgewing kan studeer sonder om bekommerd te wees oor finansies.

Ons is dankbaar vir die genade en seën wat die Here oor die afgelope twee jaar oor De Goede Hoop uitgestort het en sien met ’n verwagting in ons harte uit na 2020.

Vriendelike groete

Nantes en Elsabè Kelder

Koshuisouers

Elsabè en Nantes Kelder

X